Die aandlug krul koel deur die ruite, enkele krieke vermaak mekaar. Bob Dylan sing sag oor die liefde, andersins is die laataand tjoepstil. ‘n Hoop wasgoed loer van die bedbank af na my agter die rekenaar. Soms mis ek die gemak van ‘n bediende, net soms, maar vanaand veral.
Somer vakansies, en die aanloop na Kersfees was nog altyd is vir my ‘n uitdaging, maar deesdae is dit ‘n toets, selfs ‘n mergeling. Winkels, TV, biljette en radio’s blêr ‘n wispelturige boodskap van ongekende vreugde deur meer dinge te koop. Nog ‘n iPod, iPhone, skopfietse, vakansies na Bali vir $350.00 en siedaar, ‘n ewige lewe van kommersiële geluk. Ek dink aan die Griekse filosoof Epicurus wie bykans ‘n tweeduisend vyfhonderd jaar gelede die gedruis en soeke na goed raakgesien het “Nothing is enough for the man to whom enough is too little”. Sê dit vinnig. Ek spoel die stelling deur my mond en voel nog meer onvanpas in die gedruis. Selfs Lulu Makwassie die vreesaanjaende worshond trap lig.
Somer bring vakansiegangers, families met mandjies vol plesier geprop, kleurvolle sambrele en bier advertensie handdoeke pak die strand en esplanade vol. So tussen die kleurvolle sambrele, lip lekkend ouers wat slaptjips en gebraaide vis met die seemeeue deel, die jillende kinders met wit en pienk draairoomyse dink ek aandagtig aan wat Epicurus geskryf het oor my groot behoefte, “companionship”. Om met iemand bymekaar te wees, en net die bymekaarheid te geniet, en niks in ruil te verwag nie. “To want your friend to be with you, to share the silence when you gaze over the sea”. Soos ek al een keer gesê het, “om saam met iemand te rock”. Die gedagte en die verlange na ‘n companion om saam met my in stilte oor die see te staar knip die strand stappie kort.
Padlangs terug huis toe dink ek aan die lewe en die dood, heel donker en morbied aan die begin van die Kers Seisoen, die ewige gewroeg tussen goed en kwaad. Ek dink aan almal wie die afgelope ruk uit my en andere se lewens geloop en geruk is, met of sonder keuse. Ek dink veral oor die dood, ek sien dit as so finaal. Epicurus was min geraak deur die dood. “Death is nothing to us, since when we are, death has not come, and when death has come, we are not. The absence of life is not evil; death is no more alarming than the nothingness before birth.” Ek dink toe dadelik aan die Deense filosoof Søren Kierkegaard se reaksie, en dat hy geweldige eksepsie geneem het in Epicurus se standpunt, dit simplisties genoem en in antwoord daarteen ongeveer iets soos die geskryf het “when we are, we are still conscious of the fact that in the future we will no longer be, and that makes one hell of a difference.” Ja, inderdaad, ‘n reuse verskil.
Om ‘n morbiede geestestoestand tydens die Fees Seisoen te vermy het ek ‘n motorfiets safari beplan. Ongelukkig, en ten spyte van blink plannetjies en die sterk Australiese dollar, het my soeke na ‘n reisgenoot dadels gebring, en pak ek die rit solo aan. Lulu is ingeboek in haar gunsteling “gastehuis”, die rooi BMW is gediens, en het nuwe bande op. So stil stil het ek ‘n roete uitgewerk wat my na interessante plekke, weg van veelkleurige sambrele, drippende draairoomyse en gelukkige families sal neem. Ek reis deur die Queensland en New South Wales se platteland, stop in klein dorpies, gaan die kerke, kroeë en danssale besoek (as dit nog bestaan, kroeë sal wel), met mense gesels, hulle stories kry en so hier en daar waar ek die sluiter skaamheid oorwin word, hulle fotos neem. Plekke met name soos Goondiwindi, Moree, Wee Waa, Bourke, White Cliffs, Broken Hill is op die spyskaart. My pienk tent en opblaas matras sorg vir skuiling en bed.
Vir die reis het ek ‘n blog bladsy oopgemaak, die is nog nie aktief nie, maar sal seker so binne die volgende twee weke ietsie bekend dra. Die blog adres is ek vermoed jy plak net dit in die Google soekvenstertjie. Vir vervelige oomblikke en om na my twee-wiel doen en late te verneem, gaan loer gerus so vanaf 20 Desember daar.
Vir die wie ek dalk nie nie weer gaan sien, of ‘n Kerskaartjie stuur nie, sal ek ‘n ou PUKKE vakansie sêding herhaal “mag dit reën waar jou bokke wei.” As jy wel ‘n Kerskaartjie wil hê, stuur asseblief vir my jou posadres. My vorige skootrekenaar het ‘n nare dood gesterf en so het ek al my gestoorde posadresse ook verloor.
Go well
Cecil Barnard
+61 447 067 593
planetbaobab@gmail.com
“It always seems impossible until it is done” Nelson Mandela
”Faber est suae quisque fortunae” Every Man is the Artisan of his own Fortune
Mag dit reen waar die bokke wei……………..